Van die redakteur...

ReanNeem my saam…
My goeie vriend stuur nou die dag vir my ’n verslag oor die bevindings van die jaarlikse Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), wat opgestel is deur die Instituut vir Toekomsnavorsing. Dié mense skets nie ’n mooi prentjie vir die land nie. Dan is daar ook nog rasseonrus op ons universiteitskampusse en ’n erge droogte het ons boere baie skade aan gedoen. As die boere swaarkry, kry die hele land swaar!

Ek het nie sonder rede dié verslag van my vriend ontvang nie. Hy het dit gestuur omdat ek skuld wou maak om nog ’n motor te koop. “Nee,” het hy gesê, “moenie nou skuld aangaan nie... ook nie vir die res van 2016 nie!”
“En hoekom nogal nie?” vra ek effens verontwaardig. Ai, toe laat waai die man en hy vertel my wat alles vir ons wag. Hy het navorsing gedoen, sê hy, en dinge lyk nie mooi nie. Nou moet ’n man eerder hou wat hy het; ’n mens moet so ’n bietjie laer trek en spaarsamig wees. As jy dit nie doen nie, gaan jy onder voor sake weer beter raak.

Om spaarsamig te wees is nog altyd goeie raad, in goeie en minder goeie tye. Daarom gee Laatlos dié maand ’n paar praktiese en tong-in-die-kies-wenke om geld te spaar. In van die ander artikels is daar raad en wenke oor die hergebruik van allerlei items wat andersins in die asblik sou beland het. Wanneer ’n mens jou grysstof begin inspan, verbaas jy jouself soms oor hoe maklik dit is om nuwe gebruike vir ou items te vind, of hoe jy met min moeite iets moois en bruikbaars kan maak met goed wat jy gedink het van geen nut meer is nie.

In hierdie uitgawe is daar berigte oor hoe om ’n boog van PVC te maak, oor ’n luggeweer wat ’n pyl so vinnig skiet dat jy 'n buffel daarmee kan plattrek, hoe om peste en plae te bekamp met bestanddele wat jy reeds in jou huis het, hoe om blatjang te maak en nog meer.

Cleve Cheney skryf oor noodhulp, terwyl Madré Johnston verder vertel van die huis wat hulle in die Knysnabos gebou het.
Ai, die Knysnabos laat my altyd na ’n rustiger lewe verlang. Dan onthou ek Koos du Plessis se lirieke vir die lied Wie weet (Jopie Adam): “Diep, diep in die bos is daar ’n poort na 'n vergete land... waar ons stil dae sluit... leef, droom en swyend luister na die voetval van die tyd...”

Cleve skryf juis in dié uitgawe se hoofberig oor hoe 'n mens te werk moet gaan om die stad se gejaag te los en iewers elders rustiger te lewe – nader aan die natuur, met minder besittings en dinge wat jou blydskap steel. Baie mense wil, soos Madré en haar man, 'n stukkie grond in die bos, of elders op die platteland, koop en selfversorgend leef, maar dit lyk eenvoudig na 'n té groot verandering. Die berg lyk aanloklik, pragtig en groen, maar dit lyk moeilik om tot by die kruin te klim. Cleve noem al hiedie probleme by die naam en gee raad oor hoe om hierdie uitdagings te oorkom en die groot skuif te doen. Miskien sê jy ook soos Koos in die liedjie: "Neem my saam, neem my saam..."

Ek hoop jy geniet dié uitgawe van Laatlos.

Groete – Rean Steenkamp
Redakteur